Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Nuttige Inligting

Geskiedenis van Hekelwerk.


Hekel strek so ver terug as die sestiende eeu.  Waar dit oorspronklik begin het, is sover my kennis strek nog nie vasgestel nie, maar die populariteit van 'n pragtige stuk hekelwerk bly immer gewild.

File:1911 Britannica - Lace 2.jpg
Pragtige Kant Hekelwerk
Die Engelse woord Crochet is oorvertaal vanaf die Franse woord Croche wat beteken haak. Reg oor die wêreld staan dit bekend as crochet. Die woord hekel is afkomstig van Nederlands waar dit bekend staan as haken. Europeense nonne  het die hekelpen oorspronklik gebruik vir die maak van kant. Mettertyd is daar   soveel tegnieke en verskillende steke ontwikkel dat die  handvaardige kunsvorm vandag sy unieke plek met reg kan volstaan en is dit een van die mees geliefde handvaardige stokperdjies nie net by vroue nie maar menige mans hekel ook nou ywerig saam.



Die eerste hekelwerke wat geproduseer is was oorspronklik kant patrone en gemaak met die fynste hekelgare of katoen en 'n dun hekelpen. Deur die jare het die aanvraag na groter hekelpenne wat met 'n dukker draad gehekel kan word meer geword en vandag is daar soveel verskillende groottes dat enige dikte draad omskep kan word in hekelwerk. Wol, gras, hare, repe materiaal, sissal, lyn, draad en sydraad is almal produkte wat gebruik kan word om mee te hekel. Van die fynste kant tot grof gehekelde matte is nou moontlik.

Hekel is maklik om aan te leer. Die basies hekelsteke is eenvoudig maar baie veelsydig en is eintlik net die deurtrek van lusse.  Ons leef in 'n wereld waar alles met masjiene geproduseer word, maar niks kom by die vashou van 'n produk wat met die hand gemaak is nie.  Dit verskaf ure se plesier om te werk aan jou eie skepping en of jy dit doen vir profyt of sommer net vir die lekkerte of om te gee as geskenk aan iemand, hekel is terapeuties en 'n kunsvorm alles in een. Dit is in baie opsigte makliker as brei en beslis vinniger om 'n item klaar te maak. 

Hekel is beslis vir oud en jonk en is hier om te bly vir nog baie generasies. 

Materiaal benodig

Antieke Hekelpenne
Decorative hooks from Grafton Fibers
Pragtige Hekelpenne deur Angelyarns.







Met net 'n hekelpen en bolletjie wol kan jy hekel en dit is basies al wat jy nodig het.  Daar is egter 'n paar ander handige items wat ook benodig sal word soos koppiespelde, haakspelde, 'n merker om steke te merk wat nodig is in sommige patrone, 'n maatband, 'n wolnaald, skerp skêrtjie en natuurlik 'n sak om jou hekelwerk in te bêre.  

Verskillende groottes hekelnaalde wat beskikbaar is word gemaak van aluminium, plastiek, staal en bamboes of hout. Deur die eeue is daar ook geeksperimenteer deur ivoor, been, koper en selfs ou lepels is hervorm tot hekelnaalde. Die soort hekelpen wat jy kies is nie 'n keuse wat enige een vir jou kan maak nie en die enigste manier om uit te vind is om 'n paar verskillende soorte  te probeer. 

Verskillende wol en hekeldrade.


Enige soort wol of draad kan gebruik word om mee te hekel. Let egter op dat die draad nie groot bobbeltjies op plekke het nie want dit kan die deurtrek van die draad bemoeilik. Daar is ook verskeie wolle met lang drade wat dit moeilik maak om te sien waar presies die steek in hekelwerk lê en vir die beginner kan dit probleme veroorsaak.

Op die foto aan die linkerkant is Elle Premier Katoen 4 draad wat 'n katoendraad is met 'n glanslaag skynsel. Baie lekker om mee te werk en ideaal vir hekel of breiwerk.
Elle Pure Gold is een van my gunsteling drade om te gebruik. Dit is sag op die hande, hekel wonderlik en was soos 'n droom. Dit word 'n kunsvesel wol genoem. Kunsvesel wolle sluit in Courtelle, Akriel en Nylon. Elle Pure Gold is 100% Courtelle

Gaan besoek gerus Elle Yarns se webwerf om te sien hoeveel wolle beskikbaar is vir die Suid-Afrikaanse mark.
'n Verskeidenheid van kunsvesel drade..

Hier is 'n versameling wolle wat gebruik kan word om tekstuur aan 'n projek te gee. Speel met verskillende kombinasies. Hierdie soorte wolle is wonderlik om te gebruik in 'Freeform' hekel en vir die wat wonder wat 'Freeform' hekel is kyk na hierdie fotos!

Dit is sommer so hekel nes jy wil in enige rigting en maak jou eie vorms. Gedink hekel is nie 'n kunsvorm nie? Dink weer, want aan kreatiewe idees is daar geen tekort in die hekel-wêreld nie!


Vinnis Colours is  'n Suid-Afrikaanse produk en by verre ook een van my gunsteling drade om te gebruik. Lees hier waar  hierdie reeks katoen en bamboo brei en hekeldraad begin het wat menige  in vervoering het. Die kwaliteit van hierdie natuurlike draad kan duidelik gevoel word wanneer jy dit vashou. 

Die kleure laat mens swymel van pure genot en die moontlikhede is eindeloos. As jy dit nog nie probeer het nie doen jouself 'n guns en gaan koop 'n bolletjie. Pure hekel bederf! Pure hekel plesier! Deur en deur die prys werd!

Spanningstoets 

Spanning verwys na die getal steke en rye per vierkante sentimeter. Afhangende van die dikte van draad en hekelpen kan die gepaste grootte vasgestel word. Wanneer komberse of soortgelyke items gehekel word waar die spesifieke grootte nie 100% dieselfde as die patroon se mates hoef te wees nie, maak dit nie eintlik saak wat jou spanning is nie. Hierdie soort projekte bestaan gewoonlik uit blokkies en sou jou spanning verskil van die patroon kan jy net meer blokkies hekel tot die verlangde grootte of minder indien jou blokkies groter is as die van die patroon. 

Dit word egter belangrik om 'n toets blokkie te hekel wanneer 'n spesifieke grootte van belang is. Hekel jy styf of los? Dit kan ook die hekelwerk se grootte affekteer dus, doen 'n toets blokkie voor jy begin hekel. Indien jy geneig is om styf te hekel kan jy 'n groter hekelpen gebruik wat die spanning van jou werk kan verbeter en andersom indien jy geneig is om baie los te hekel. Daar word op elke wol etiket 'n grootte hekelpen aanbeveel. Dit kan gebruik word as maatstaf en is ook die grootte waarmee jy die eerste toets blokkie doen. Dit is die grootte wat normaalweg gebruik word vir die spesifieke draad. Daar is ook op die wol etiket 'n blokkie wat die mates aandui. Dit spesifiseer gewoonlik 'n blokkie van 10 x 10 cm. Aantal steke gebruik asook aantal rye om die blokkie se mates te bepaal word op elke wol etiket gedruk. 

Die Lees van Wol Etikette.

Daar is belangrike inligting gedruk op etikette.
  • Totale lengte van draad
  • Gewig
  • Dikte van draad
  • Naam van draad
  • Naam van vervaardiger
  • Inhoud van wol
  • Kleur kode en/of kleurnaam
  • Lot nommer
  • Grootte van breinaalde en hekelpen
  • Gauge of Spannings blokkie
  • Was instruksies

Gewig:

Gewig word aangedui in gram.


Verdere inligting om te weet:
1 ons = 28,35 gram
4 onse = 113,4 gram
8 onse = 226,8 gram
2lb en 3 onse = 1 kg


Dit beteken dat 'n bolletjie wol van 25g ietwat minder is as 'n ons. Hou dit in gedagte wanneer jy wol aankoop vir 'n projek wat nog verwys na onse andersins kom jy dalk wol kort. 




Totale lengte van draad: 


Die totale lengte van die bal is belangrik want twee balle wol wat albei 50g weeg kan verskil in lengte. Dit hang alles af van die inhoud van die wol. 50g Nylon of Akriel kan byvoorbeeld langer in lengte  wees as 50g suiwer wol indien die wol swaarder weeg as die akriel of nylon. Sommige patrone gee wel die hoeveelheid wol wat benodig word vir 'n projek in lengtes aan maar nie almal doen dit nie. Dit kan ook veroorsaak dat te min wol aangekoop word vir 'n projek.

Dikte van brei draad: 

Hier in Suid-Afrika is die volgende algemeen bekende drade beskikbaar en ek noem ook die Engelse naam omdat dit so op etikette gedruk word:

  • 3 draad of 3 ply  ['n dun draad wat gewoonlik gebruik word vir die maak van baba klere]
  • 4 draad of 4 ply [effens dikker as 3 draad en 'n goeie keuse vir die somer]
  • dubbeldraad of double knit soms ook aangedui met die letters DK [gelykstaande aan 2 x 4drade saam]
  • Aran dikte draad [gelykstaande aan 'n 4draad plus dubbeldraad saam]
  • ekstra dik draad of chunky [gelykstaande aan 2 x dubbeldrade saam]
  • super dik of seriously chunky, XL of ook genoem extra thick yarn [gelykstaande aan 2 x chunky drade]

Dikte van hekeldraad en katoen: 


Elle vervaardig 'n hekeldraad no 5. Dit is 100% akriel en was goed. Ideaal om baba items mee af te rond soos byvoorbeeld vir randte, skoentjies, blommetjies ens. Tot onlangs was daar ook 'n Elle no 8 beskikbaar maar dit blyk dat hierdie nommer nie meer vervaardig gaan word nie. So 'n paar jaar gelede was daar selfs 'n dubbeldraad hekeldraad beskikbaar maar Elle het ook besluit om dit van die mark te verwyder. 

Knit Crosheen is gelukkig nog beskikbaar in nommers 5 en 8. 'n Pragtige 100% gemersieerde gare wat in wit, room, ecru en ongebleik asook 'n verskeidenheid ander kleure beskikbaar is. 

DMC Cordonnet Crochet Cotton ThreadDMC het 'n groot verskeidenheid hekelgare  onder andere Cordonnet wat begin by no 10 en deurgaan tot 'n fyne 100 draad. Ideaal vir die fynste gehekelde kant en doilies. Veral vir krale doilies wat nou weer immer gewild is. Dan het DMC ook bo aan die lys kwaliteit gares soos Petra en Cebelia [10/20 en 30] Hierdie hekelgares is nie goedkoop nie maar sal mooi bly en hekelwerk wat hiermee gemaak is kan oorgedra word van geslag tot geslag.   


Naam van Draad

Die opskrif vertel alles. Elke wol of draad het sy eie naam. Vinnis Colours het byvoorbeeld drie soorte  natuurlike drade naamlik Nikkim, Serina en Bambi. Elle het weer wol met die name van Family Knit, Mirage, Charity, Elle Baby, Pure Gold ens. African Expressions se reeks bestaan uit Love, Hope, Harmony, Soul, Freedom, Adore, Joy ens. 

Naam van Vervaardiger

Deur wie die wol vervaardig word asook vervaardiger se kontak besonderhede. 

Inhoud van Wol

Waarvan word die draad gemaak? Bestaan dit uit natuurlike vesels of nagemaakte vesels. Sommige drade word van slegs een soort vesel geweef en ander is weer 'n mengsel wat bestaan uit verskillende vesels. Dit word in persentasies aangedui. 

Kleurkode en/of Kleurnaam

Die kleur of kleurkode beskryf die spesifieke kleur van die wol wat belangrik is want sommige kleure is baie naby aanmekaar. 

Lot nommer

Lotnommers is baie belangrik wanneer 'n artikel soos 'n trui gemaak word. Dit is belangrik om te sorg dat al die wol wat in een artikel gebruik word dieselfde lotnommers het. By die fabriek waar die wol gekleur word moet daar elke keer 'n nuwe mengsel kleursel in die kleurdromme gegooi word en met elke nuwe mengsel word daar 'n spesifieke lotnommer toegeken. Die kleur intensie kan dus verskil met elke nuwe mengsel wat gemaak word en sodoende gebeur dit dat alhoewel dit dieselfde kleur is wat gemeng word, daar 'n geringe verskil kan wees wat merkbaar sal wees wanneer twee balle wol met verskillende lotnommers reg langs mekaar gebrei of gehekel word. Wanneer jy egter verskillende lotnommers gebruik in 'n projek soos 'n blokkies kombers met verskillende kleure, sal die verskil nie gesien word nie want daar is ander kleure in die 
kombers wat die twee kleure skei van mekaar. 

Grootte van Breinaalde en Hekelpen

Hier is die grootte van die hekelpen belangrik. Dit word aangedui in mm en die grootte wat aangegee word is wat  aanbeveel word vir die spesifieke dikte van die draad.  Wol wat van ander lande af ingevoer word het ook die Amerikaanse en/of Europese groottes op die etiket en word duidelik gemerk met US of UK. In Suid Afrika.gebruik ons millimeters om nommers aan te dui.  In die afdeling met die opskrif Afkortings en Hekelpen Groottes kan meer inligting hieroor gekry word. 

Spannings Blokkie

Die spannings of toets blokkie is 'n aanduiding van die aantal steke en rye wat per vierkante sentimeter van die hekelwerk gehekel word.  Die dikte van die draad tesame met die grootte van die hekelpen sal hierdie grootte bepaal. Hekel altyd 'n toets blokkie voordat 'n groot projek aangepak word om teleurstelling te voorkom. Pas jou hekelpen of dikte van draad  aan totdat die aangeduide grootte van die blokkie ooreenstem met die aanwysings. Dit is veral belangrik met die hekel van 'n kledingstuk maar met ander items soos komberse is dit nie noodsaaklik nie. 

Was Instruksies

Hierdie aanwysings is nie verniet op die etiket nie. Voordat jy die wol aankoop maak seker dat jy vertroud is met die was instruksies. Bestudeer dit sorgvuldig. Kan dit in die wasmasjien gewas word?. Wat moet die temperatuur van die water wees?. Kan dit na 'n droogskoonmaker toe geneem word? Kan dit gebleik word? Kan dit gestoom word met 'n strykyster of nie? Kan dit aan 'n wasgoedlyn gehang word?

8 comments:

  1. Monica, baie dankie vir al jou nuttige inligting. Ek het 1 Junie begin hekel en geniet dit baie. Sover al serp, lampafwerkings, babakombers, kombersie vir my kleindogter gehekel en is besig met 'n "throw" vir my bed. Ek werk en hekel saans en naweke as ek nie werk nie. Ek geniet jou blad baie - wens ek kon ook 'n paar klasse bywoon. Groete uit Malmesbury - Hanneke

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Hanneke,

      Baie dankie vir jou boodskappie. Ek het dit nou eers raakgesien.
      Lekker hekel aan jou 'throw' hoor. Dit is darem so lekker om mens se eie handewerk te doen en niks is mooier as 'n lekker snoesige gehekelde 'throw' nie.

      Vriendelike groete
      Monica :)

      Delete
  2. Hekelwerk is so mooi, maar aan die uitsterf, kan jy my asb help ek is dringend opsoek na n wit doylie met blou kraletjies in, waar kan ek gaan koop help dringend asb en dankie groete Annemarie

    ReplyDelete
  3. Baie oulike en dit laat 'n mens sommer lekker voel. Ek hekel vir ontspanning en dit is iets wat ek by die Vroue Landbou Unie nogal baie doen en daar het ek baie dinge geleer. Ek kan nou ook 'n patron lees wat ek nooit in die verlede kon doen.
    Sterkte vir hierdie week

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir die boodskap Petra. Mooi week ook vir jou. :)

      Delete
  4. Sjoe baie dankie!!! Ek en my kleindogter speel te lekker!!!Sy het behoorlik my naald by my afgeneem en Ouma het al vergeet hoe maar danksy jou oulike blad vorder ons fluks!!Griet Pretorius

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Griet! Is dit nie heerlik om te hoor Ouma en kleindogter hekel saam nie! Wonderlik! Dit is vir my heerlik om te hoor dat my blad julle so kan help. Baie dankie vir die boodskappie. Ek waardeer dit!!

      Delete
  5. Hi Monica

    Ek wil baie graag leer hekel, en het die meeste van jou nuttige wenke ge-pdf sodat ek dit saam met my kan vat orals waar ek heengaan. Ek kan al die basiese dinge doen, maar is nie seker hoe om 'n nuwe bol wol te heg aan die stuk waarmee ek besig is nie. Kan jy dalk vir my illustrasie stuur.

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica