Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Patroon: Hekel 'n Uiltjie Motief!



Hallo aan al die pragtige Hekel Idees lesers!

Vandag deel ek my uiltjie patroon met julle. Kom ek vertel net eers hoe hierdie uiltjie vandag gebore is. 

Het dit al met julle gebeur dat jy partykeer begin met iets en dan is die eindresultaat totaal en al glad nie wat jy in gedagte gehad het nie?

Ek het vanoggend gesit en dink dat ek graag 'n ronde motief wil skryf en het gehekel en geskryf, los getrek en weer gehekel. Dan besluit ek nee ek hou nie van sekere kleure bymekaar nie en so het ek gesit en speel hier met 'n idee vir 'n ronde motief wat op 'n ou CD geplak kan word.  'n Mandala was wat ek in gedagte gehad het maar o wee die kleure wat ek graag sou wou gebruik het ek nie in Vinnis Nikkim nie en ek wou dit met katoen doen. Ek het die ronde motief klaar geskryf sodat dit op die CD kon pas en terwyl ek ontevrede na my eerste gekleurde bont poging sit en kyk besef ek dat ek dit in 'n uil kan omskep. Ek het my filt en knope gaan uitkrap en begin sny en pas en baie bly dat ek ten einde laaste iets kon doen met die patroontjie het ek toe my motief begin hekel in  hierdie blou skakerings. Ek sal eerder nie my eerste poging met julle deel nie! Die uil het glad nie mooi vertoon in die bont motief wat ek eerste gehekel het nie..... ......*glimlag*.... maar uithou aanhou en hier is die patroon vir julle!

Ek hoop julle hou van hom en kan hom goed gebruik!

Kry 'n ou bekertjie koffie of indien dit te warm is gooi 'n lekker lang glas koeldrank [met eish!], skop uit die skoene, ontspan en begin hekel. 'n Rustige musiekie in die agtergrond kan ook wondere verrig! :)

Materiaal gebruik:

  • Vinnis Nikkim DK in 4 kleure. 
  • 4mm hekelpen.
  • 2 Knopies 
  • Stukkies filt vir snawel en ogies. 
  • Borduurgare.


Begin met Kleur A en werk 5ks, gs om ring te vorm. [Indien verkies begin met 'n garesirkel]

Ry 1: 1ks, 12hlb in ring, slaan 1ks oor wat in begin gemaak is en gs in die 1e hlb. Knip draad en heg af.

Ry 2:  Heg Kleur B in enige hlb van vorige rdte, 3ks, 2lb in dies st,  *1ks, slaan 1hlb oor en werk 3lb in vlg hlb,  * herh van * tot * tot einde van rdte. [Daar moet 6 groepe wees van 3lb elk]. Heg af.

Ry 3: Heg Kleur A in enige 2e lb van 'n groep, 2ks, * 3lb in die hlb wat in die  1e rondte  oorgeslaan is. Werk die steke bo-oor die kettingsteek spasie, 1ks, slaan 1lb oor, 1kb in die vlg lb, 1ks,*; herh van * tot *  einde van rdte en gs in die 2e ks. Heg af.

Ry 4: Heg Kleur B  in enige 1ks sp, 3ks, 2lb in dies sp. Werk daarna 3lb in elk van die oorblywende 11 spasies. Glipsteek in 3e ks. Heg af.

Ry 5: Heg Kleur A in dies st, 1ks, 1kb in vlg 2lb, * 1kb oor ry 4 en in die die 2e lb = middelste lb van ry 3,  1kb in elk van vlg 3lb, werk dan weer 'n kb oor ry 4 in hlb van ry 3, 1kb in elk van vlg 3lb, * herh van * tot * tot einde van rdte.  Glipsteek in 1e ks en heg af.

Ry 6: Heg Kleur C in enige kb, 1ks,  werk 'n kb in elke kb tot einde van rdte, gs in 1e ks maar moenie af heg nie.

Ry 7:  1ks en 1kb in dieselfde steek, * 1kb in elk van vlg 5kb,  2kb in vlg kb, herh van * tot * deur in elke 6e kb te vermeerder.  Glipsteek in 1e ks en heg af.

Ry 8: Heg Kleur D in enige kb, 3ks, werk in dies kb die vlg: [3dslb, 1lb, 1hlb]; werk dan 1kb in elk van vlg 10kb, in vlg kb werk die vlg: [1hlb, 1lb, 3dslb, 3ks, gs terug in dies steek]; werk dan 1 kb in elke oorblywende kb reg rondom die lyfie tot by die begin van oortjie, gs en heg af.

Vlerkies: Hekel 2

Begin met 10 ks, kb in 2e ks vanaf pen, 1hlb, 2lb, werk  2dslb in vlg ks, dan 2lb, 1hlb, en 1kb in laaste ks, 1ks en draai. Herhaal die ry weer soos volg: 1kb in 1ekb, 1hlb, 2lb, 2dslb, 2lb, 1hlb, 1kb en gs in die punt. Heg af.  

Afwerking: 

Werk alle los drade weg. Sny 2 sirkels vir ogies en 'n driehoek vir die snawel uit filt. Werk in plek vas en werk daarna die knope bo oor die sirkels van die oë. Werk dan die vlerkies in posisie vas.

Idees vir die gebruik van die motief. 

  • As versiering op 'n kombersie
  • Hekel 'n hele paar, plak op ou CD's en gebruik in 'n hang-mobiel
  • Versier 'n beanie
  • Hekel drie of vier, plak op ou CD's en dan aan 'n satynlint onder mekaar om teen die muur te hang.
Ek is seker julle kan ook nog aan baie ander maniere dink om hierdie uiltjie te gebruik! Geniet dit almal en 'n wonderlike week vir julle almal!

Hekel groete!


No comments:

Post a Comment

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica