Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Hoe om 'n sig-sag patroon te hekel.

Wou jy nog altyd geleer het hoe om die sig-sag patroon te doen? Hier is maklike stap vir stap aanwysings.


Die aantal steke word soos volg uitgewerk. Elke herhaling van die patroon bestaan uit 18 steke. Dus sorg dat die aantal kettingsteke waarmee jy begin daarin deelbaar is. Tel nou nog 3 steke by. Die 3 ekstra steke word gemaak vir die draaisteek wat die eerste langbeen vervang. Vir hierdie tutoriaal gaan ons 2 herhalings doen wat beteken 18+18+3=39. Ons begin dus met 39 kettingsteke.

Hoe word 'n langbeen gemaak? Indien jy nie weet nie, volg hierdie stappe:



Slaan die draad om die pen en druk pen deur steek, haak die wol en trek deur die steek en effens na bo [3 lusse op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur slegs 2 lusse [2 lusse bly oor op pen]


Slaan die draad weer om die pen en trek deur die 2 oorblywende lusse op pen [1 lus bly oor]

Geluk! Jy het so pas 'n langbeen gemaak. :)








Goed, kom ons begin met die sig-sag patroon!

Maak 39 kettingsteke

Ry 1: Werk nou 1 langbeen in die 4e ks vanaf pen,maak 1 langbeen in elk van die volgende 6 kettingsteke. 

 
Nou gaan jy verminder in die volgende 2 kettingsteke. Om te verminder moet 2 langbene gemaak word wat saam afgewerk is. Die stappe wanneer 2 langbene saam afgewerk word is soos volg: 

Hoe word 2 langbene saam afgewerk?


Verminder
* Slaan draad om pen, steek hekelpen deur volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [3 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen, steek pen in volgende kettingsteek, haak wol en trek deur steek na bo, [4 lusse], slaan draad om pen en trek deur 2 lusse, slaan draad om pen en trek deur oorblywende 3 lusse tesame. * Herhaal hierdie stap vanaf * tot * oor die volgende 2 kettingsteke. Jy het nou 2 verminderings gedoen.Die foto illustreer hoe die 2 saamgewerkte langbene lyk.   

Werk oor die volgende 6 kettingsteke 1 langbeen in elke kettingsteek. Jy sal merk dat die eerste kurwe van jou patroon nou duidelik begin wys en met 'n hoekie na onder trek en dan weer na bo loop.
Vermeerder

Hoe word in die volgende 2 langbene vermeerder?


Nadat jy die 6 langbene voltooi het moet ons nou in die volgende 2 steke weer vermeerder. Vermeerder beteken ons moet 2 langbene in dieselfde steek doen so in die volgende 2 kettingsteke gaan jy nou 2 langbene in elkeen maak.

Werk nou weer 6 langbene in die volgende 6 kettingsteke.

Doen dan weer 2 verminderings deur die stappe soos bo  te volg in die volgende 4 kettingsteke. Nadat jy dit voltooi het bly daar nou nog 7 kettingsteke oor tot die einde van die ry. Werk 6 langbene en in die heel laaste kettingsteek werk jy 2 langbene, 3 kettingsteke en draai.


Maak die eerste langbeen van elke ry in die heel eerste gaatjie soos aangedui op die foto. Werk dan 6 langbene, 2 verminderings, 6 langbene, 2 vermeerderings, 6 langbene,2 verminderings, 6 langbene, 2 langbene in laaste steek, 3ks en draai

Hierdie stappe kan nou net herhaal word. Die sig-sag patroon is nou in plek!


Die illustrasie links wys hoe die patroon loop. Onthou daar is altyd 2 langbene aan die begin en einde van die ry.Verder moet jy net onthou om na elke 6 langbene te verminder of vermeerder. Verminder oor 4 langbene en vermeerder oor 2 langbene. 

Klink dit nog steeds Grieks? Kyk na die illustrasie bo. Elke onderpunt van 'n beentjie wat ek geteken het tel 1 steek. Waar die ry begin lyk dit soos 'n V met twee sirkels aan die bo-punt.'n Sirkel met 'n been en 'n kort strepie net onderkant die sirkel stel 'n langbeen voor.  Dit beteken daar is 2 langbene in dieselfde steek gemaak. Dan sien jy 6 langbene. Volgende is die V omgedraai met vier punte onder maar slegs 2 sirkels bo. Dit beteken daar is 2 langbene saam gewerk. 

Hoop dit is duidelik genoeg! :)


 

 

 

 

 

Hoe word kleure verander?

Wanneer jy die heel laaste langbeen maak word die heel laaste stap met die nuwe kleur gedoen. Met ander woorde jy werk die langbeen tot 2 lusse oorbly op pen en trek dan die nuwe kleur deur, 3 ks en draai.

En dit is dan die sig-sag patroon! :)

Wonderlike hekelgroete vir almal!

15 comments:

  1. Hallo Monica,
    Baie lekker gekuier. Lanklaaste gehekel en kyk na jou 3-hoekies. En jou Rippel steek. Gaan dit defnitief probeer. Winter is handwerk tyd.
    Dankie vir jou gratis patrone EN die aanwysings. Dis lief van jou.
    Groete en lekker werk.
    Lydia Potgieter.
    NS Sien jou gou weer.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie vir die kuiertjie en boodskappie Lydia. Ek waardeer dit geweldig baie!
      Lekker dag vir jou!
      Monica :)

      Delete
  2. Monica,
    Ek geniet dit vreeslik om op jou blogspot te kuier! Ek het al op laerskool geleer hekel so ek ken die 'basics' en het al halwe komberse en talle blokke gemaak vir die lekker, maar ek het nog nooit daadwerklike projekte aangepak en klaargemaak nie - so ek geniet dit baie om die patrone wat jy gee te volg! Baie dankie dat jy tyd afstaan om dit vir ons ook moontlik te maak om hekelwerk so baie te geniet, jy het 'n wonderlike manier om dit oor te dra en dit interessant te hou. Ek gaan nog baie hier inloer!
    Groete, Elanza

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Elanza en baie dankie vir jou boodskappie. Bly jy geniet dit om hier te kuier. Hoop om jou weer binnekort te sien!
      Lekker hekel!
      Monica :)

      Delete
  3. Hi Monica,
    Ek wil net hoor,
    as ek n sigsag kombers wil hekel, doen mens dit in stukke?
    Of begin jy met jou honderde (plus 3) kettingsteke en gaan van daar?
    Asseblief.
    Dankie vir al die oulike patrone en duidelik uiteensettings van alles.
    Groete.
    Nicole

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Nicole! SO jammer ek antwoord nou eers. Ek het nooit hierdie boodskap gesien nie. Jy begin met jou honderde plus 3 kettingsteke. :)

      Delete
    2. Hallo Monica,
      Hoeveel kettingsteke moet ek maak vir 'n baba kombers as ek dit rippelsteek wil hekel.
      Hulp sal waardeer word asb en dankie
      Groete,
      Elize

      Delete
    3. Hi Elize, Die beste is jy moet 'n toets lappie hekel. Volg die instruksies bo en hekel 'n paar rye. Neem dan die mates van jou lappie. Besluit hoe groot jy die kombers wil maak en maak jou somme. Dit hang af van jou eie spanning, die pen grootte asook die wol wat jy gebruik.

      Delete
  4. Monica, dit is die pragtigste blog het vandag eers op dit afgekom. Wanneer kom daar 'n boek uit met al jou mooi patrone? Hou so aan asb wil nog altwee my dogters leer hekel en jy maak dit so maklik.
    Groete
    Magda

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Magda,

      Baie dankie vir jou boodskappie. Hopelik sal daar nog in die toekoms 'n boek wees!

      Lekker hekel!
      Monica :)

      Delete
  5. Hallo Monica

    Wow bitter baie dankie vir jou blog - ek is besig om myself te leer hekel en my grootste sukkel was om te weet waar om die pen volgende in te steek - vandag sien ek jou blog en jy wys dit so duidelik soos daglig. Nogmaals dankie!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Bly ek kon help Alida! Dankie vir jou boodskap en vir die dankie! :) Lekker hekel!

      Delete
  6. Hallo Monica,
    Dankie vir jou patrone en tutoriale! Ek het een vraag- met die zig-zag patroon, is daar dan 8 langbene voor die volgende vermindering in elke nuwe ry? Die 8 verteenwoordig dus die 3 kettingsteke, die eerste langbeen in dieselfde steek en dan nog 6 langbene.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Anonymous. Ja dit is soos jy sê.

      Delete
    2. Baie dankie, Monica!

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica