Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Tutoriaal: Leer hoe om 'n 'Granny Square' te hekel.

Stap vir stap aanwysing! Leer hoe om 'n Ouma Blokkie of Granny Square soos meer algemeen bekend staan, te hekel.


 
  
Hierdie tutoriaal is spesiaal vir almal wat wil leer hekel en die Granny Square of Ouma Blokkie is ideaal vir die beginner. Volg die aanwysings en leer stap vir stap hoe om te werk te gaan. 

Stap 1.

Hierdie heel eerste steek op jou hekelpen is 'n glipknoop en word nie getel as die eerste steek nie maar is slegs 'n beginpunt.

Volg stappe 1,2 en 3 soos die instruksies op die illustrasies aan die linkerkant demonstreer.


Stap 2.

Die gare of wol is nou gereed op die pen en die eerste kettingsteek[ks]kan gemaak word deur die draad  om die pen te slaan en deur die beginknoop te trek.

Maak nou nog 4 kettingsteke.Dit gee jou 5 voltooide kettingsteke.

Let op dat die hekelpen se hakie na onder wys wanneer die draad deurgetrek word. Die spanning is reg indien jy die hekelpen maklik kan deurtrek. 

Onthou hekel is onstpannend so moenie styf werk nie en ontspan jou hande. Sit gerieflik en geniet dit. Indien jy sukkel in die begin onthou ons het almal eens op 'n tyd ook gesukkel. 

Stap 3. 
Glipsteek [gs] in die heel eerste ks om sodoende 'n ring te vorm. Wanneer jy 'n glipsteek maak steek jy die pen in die steek, slaan die draad om die pen en trek die draad deur die steek sodat daar net een lus op jou pen oorbly.



Ons wil 'n glipsteek maak in die heel eerste kettingsteek en moet die pen dus insteek reg waar ons begin het. Kyk na die fotos links om te sien presies waar hierdie glipsteek gemaak word.












Dus: Steek die pen in die eerste kettingsteek, slaan die draad om pen en trek deur albei lusse op pen. Die ring is nou gereed en daar kan begin word met die heel eerste ry.



Ry 1. Die eerste ry se steke word almal binne in die ring gemaak.Vroetel met jou duim en voor-vinger in die ring om seker te maak jy weet presies waar die binnekant van die ring is. 



Die foto aan die regterkant demonstreer hoe 'n langbeen [lb] gemaak word.

Die stappe binne die ring is:

Slaan die draad om pen, steek in die spasie, haak die wol en trek dit deur die ring op na bo.Daar is 3 lusse op die pen. Slaan draad weer om pen en trek deur  2 lusse, slaan draad om pen en trek deur albei lusse. Daar is nou 1 lus op pen. Dit voltooi die eerste langbeen.

Goed noudat jy weet hoe 'n langbeen gemaak word volg die instruksies.





Begin met 3ks,2lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks, 3lb, 2ks en glipsteek in die 3e ks waar jy begin het. Dit voltooi die ry. 

Daar is altesaam 12 bene wat getel kan word. Die eerste 3 ks dien as plaasvervanger vir die 1e lb en word altyd gemaak wanneer jy met 'n nuwe ry begin wat bestaan uit langbene. Dit lyk net soos 'n langbeen wanneer jy daarna kyk en dit is 'n manier om ook hoogte te gee vir die volgende lb wat gemaak moet word. Hierdie 3 ks word net 1 keer gemaak en altyd aan die begin van die ry. Knip die draad en werk die los drade weg deur 'n wol naald te gebruik en tussen die steke deur te weef soos op die foto aan die regterkant gewys word.
 
Ry 2.

Heg nou die wol in enige hoekspasie deur die wol om die pen te slaan en deur die spasie te trek.

Maak een kettingsteek en maak 'n knoop aan die agterkant deur die kort draad te knoop met die werkende draad soos die foto links onder illustreer.




Nou is jy gereed om met ry 2 te begin.

Maak nog 2 ks en onthou hierdie eerste 3 ks is die plaasvervanger vir die eerste langbeen.






Jy gaan nou die eerste hoekspasie werk. Maak 2lb, 2ks, 3lb in dieselfde spasie. [foto links]








Maak nou 2ks en werk nou in die volgende hoekspasie weer [3lb, 2ks, 3lb] [foto links]








Herhaal hierdie stappe totdat al 4 hoekspasie gewerk is.

Maak weer 2ks en glipsteek in die boonste deel van die 3ks. [foto links dui aan waar die glipsteek gemaak word]
Die foto links wys hoe die blokkie nou lyk nadat die glipsteek gedoen is.

Sny die draad en trek deur die lus. Weef draad weg.





Ry 3:

Heg volgende kleur weer soos voorheen verduidelik en werk hoekspasie. Onthou 'n hoekspasie bestaan uit twee groepies wat bestaan uit [3lb,2ks,3lb], maar die heel eerste hoekspasie van enige ry bestaan altyd uit [3ks,2lb,2ks,3lb]

Elke spasie tussen die hoekie bestaan uit slegs 3 lb en tussen in altyd 2ks om die groepie van 3lb te skei en 'n spasie te maak.

Ry 3 lees dus as volg:

Heg kleur en werk eerste hoekgroep,[2ks, 3lb in vlg sp,2ks, hoekgroep] Herhaal tot al 4 hoeke gewerk is. Eindig weer deur 'n glipsteek te maak in die boonste punt van 3ks soos vorige ry.

Hierdie is die basiese patroon vir die blokkie. Jy kan dit so groot maak soos jy wil. Onthou net met elke ry gaan daar meer spasies tussen die hoeke wees. Elke spasie tussen die hoeke bestaan uit slegs 3 langbene. Na elke 3 langbene is daar altyd 2 kettingsteke om spasie te maak vir die volgende ry.

Hoop die tutoriaal is duidelik genoeg sodat julle sommer dadelik kan begin met julle blokkies.

Lekker hekel!

11 comments:

  1. Ja dit inspireer my weer om te hekel. My ouma het ons dogters leer hekel. Ons het 'n kombers saam gehekel. My het vir my suster 'n rok gehekel. Dis 'n voorreg en sal beskil weer die hekelpen opneem. Dankie vir jou bydrae!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir die inloer en boodskap. Waardeer dit! :)

      Delete
  2. Hallo Monica, ek het jare gelede laas gehekel en nodeloos om te se ek het omtrent alles vergeet. Ek wil 'n babakombersie hekel en ht 'n engelse patroon van die "Granny Square" gekry by die winkel maar is nou so bly ek het om jou website afegkom, het nou hierdie afrikaanse patroon vir my uitgedruk en klaar maak alles soveel meer sin. Baie dankie!!! Kan nie wag om te begin nie. Groete Riana Ebertsohn

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek is baie bly jy het Hekel Idees ontdek Riana en nog blyer dat die patroon sommer meer sin maak. Dit is maar net beter in mens se eie taal.
      Lekker hekel!
      Monica

      Delete
  3. Dankie vir al wonderlike inligting. Is n beginner, behoorlik groen van onkunde. (boonop linkshandig..........) dankie, dankie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir jou boodskappie! Bly om te kan help. :)

      Delete
  4. Monica, wat 'n inspirasie. Ek het sowat 2 weke terug leer hekel, en het al ongeveer 20 granny squares (werk heeltyd 2 rondtes per kleur) - lyk stunning. Hoe werk mens al die drade agter weg? By daardie les ek nie gekom nie. LOL

    ReplyDelete
    Replies
    1. O die liewe drade. Daar is geen kortpad nie! 'n Wolnaald en ure se wegwerk van drade is een van daardie takies waarna niemand uitsien nie. Werk die los drade tussen die steke deur op enige manier solank dit net onopsigtelik is en op so 'n manier dat dit nie sal lostrek nie.

      Delete
  5. Dankie vir jou mooi artikel. Het gister begin en het jou stappe maklik gevind om te volg. Watter nr hekelnaald sal jy aanbeveel vir nr 4 wol?
    Groete
    Susan

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Susan,

      'n Nommer 4 wol is 'n medium gewig en gelykstaande aan 'n Aran dikte wat beteken die hekelpen grootte wissel so tussen 4 en 5. Die grootte van die hekelpen word normaalweg op die etiket van die wol aangedui. Bekyk bietjie die etiket en kyk of jy ietsie wys kan word.

      Vriendelike groete
      Monica :)

      Delete
  6. Voila ek hetmy eerste granny square reggekry. Nou is dit wol koop en my eerste projek aanpak. Danki vir jou stap vir stap leersessie dit is fantasties. Niu gaan die fanatiese breier hekel onder die knie kry.

    ReplyDelete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica